Die Baxter Teatersentrum bied met trots ‘n Afrikaanse seisoen aan, vanaf 24 Oktober tot 12 November. Hierdie speelvlak bestaan uit twee produksies, naamlik Die Ontelbare 48 (24 – 29 Oktober), en As die broek pas (3 – 12 November).
Die Ontelbare 48 is ʼn mikrokosmiese blik op die alledaagse menslikheid wat ons almal, maak nie saak hoe anders ons dink of leef nie, eindelik saambind. Hierdie satiriese drama wat die mens se uithouvermoë vier is te sien by die Baxter vanaf 24 tot 29 Oktober om 20.00, met ‘n addisionele vertoning 29 Oktober om 15:00.
Antoinette Kellermann ontgin die realiteit van manwees eerstehands deur die aan-die-baservaring van ’n vrou in As die broek pas, ’n toneelstuk deur die Duitste dramaturg Manfred Karge (oorspronklik getiteld Jacke wie Hose). In die haglike ekonomiese omstandighede van Duitsland tussen die twee Wêreldoorloë, neem ’n werkersklasvrou na haar man se dood sy werk en identiteit aan ter oorlewing. Haar ervaring van die rituele van mansgedrag, die toenemende impak van Hitler en Nasionaal Sosialisme op die Duitse bevolking, en haar enkel patetiese poging om terug te keer na vrouwees en liefde, word ’n aangrypende teatrale ervaring van vereensaming en oorlewing.
As die broek pas het verskeie toekennings ontvang onder meer Fiesta-pryse vir beste aanbieding, aktrise en ontwerp en menige pryse as beste aktrise vir Kellermann se vertolking, insluitend ‘n Fleur du Cap-, Aardklop- en Kanna-prys. Kellermann is ook in 2016 genomineer vir ‘n Naledi-prys vir beste aktrise vir hierdie vertolking. Die teks is vertaal deur die bekroonde dramaturg en skrywer Willem Anker en Marthinus Basson is verantwoordelik vir die regie en ontwerp.
Die veelbekroonde eenpersoonsvertoning As die broek pas is te sien vanaf 3 tot 12 November, om 20:00, met addisionele vertonings op 5 en 12 November om 15:00.
Kaartjies vir beide produksies wissel van R80 – R120, met ‘n afslagprys van R150 as jy vir beide bespreek. Die R150 afslagprys is net beskikbaar by die Baxter Teatersentrum se kaartjiekantoor. Vir meer inligting kontak Leon van Zyl per e-pos by leon.vanzyl@uct.ac.za of telefonies by 021 680 3973. Kaartjies beskikbaar by Computicket.
Leave a Reply